SWARTLAND MUNISIPALITEIT VERSTERK VEILIGHEIDSDIENSTE MET NUWE BRANDWEERWA

Swartland Munisipaliteit het die pas afgelope week ontvangs geneem van ’n splinternuwe brandweerwa. Die toevoeging van hierdie moderne voertuig ondersteun die munisipaliteit se vermoë om nood- en rampbestuur doeltreffend te bestuur en te verbeter, soos dit ten doel gestel word in die geïntegreerde ontwikkelingsplan. 

Die voertuig, wat teen 'n totale koste van R3,7 miljoen aangeskaf is, het 'n beduidende bydrae van R926 000 ontvang van die Wes-Kaapse Provinsiale Regering. Hierdie voertuig is spesifiek toegerus om strukturele brande te bestry en kan 3000 liter water en 250 liter skuim dra. Dit is ook toegerus met verskeie nood en reddingstoerusting wat dit ‘n gepaste voertuig sal maak om te help met ernstige motorongelukke. 

Swartland Munisipaliteit is daartoe verbind om te verseker dat die munisipaliteite se brandweerdienste volhoubaar en tot die voordeel en veiligheid van die gemeenskap gelewer kan word. Die Munisipaliteit het die afgelope tyd gefokus om kapasiteit vir brandweer en nooddienste binne die munisipaliteit te verskerp. 

Dit het die brandweer se kapasiteit vergroot en ‘n wesenlike verskil gemaak aan ons vermoëns. Deur die uitbreiding van ons dienste, raak ons minder afhanklik van ondersteuning deur buite partye en maak dit meer fondse beskikbaar om terug te ploeg in ons eie brandweer. Ons het ‘n baie waardevolle vennoot in die Wes-Kaapse Provinsiale Regering wat ons deurlopend ondersteun en hulpbronne beskikbaar maak sodat ons interne kapasiteite vir nood en rampbestuur vergroot. 

Harold Cleophas, die Uitvoerende Burgemeester, het met die oorhandiging sy dank uitgespreek aan die Provinsiale Regering wat hande vat en saam met Swartland Munisipaliteit werk om te dienste te verbeter en uit te brei. Burgemeester Cleophas het ook sy dank en waardering uitgespreek teenoor die brandbestryders vir hul onbaatsugtige toewyding tot hierdie gevaarlike en veeleisende beroep. Mnr. Cleophas het die versekering gegee dat die munisipaliteit sal voortgaan om te belê in die groei en uitbreiding van die brandweerdienste, tot die voordeel en veiligheid van die hele Swartland.